
=====================================================================
'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


'Aitjiebul' speel met taal

George Weideman put uit Afrikaans se ryke skat van byname vir inligting en vermaak.

KOM ons noem bynaamgewing 'n Onderveldse gewoonte, dis vaag en veilig genoeg, en dan sluit ons Kannaland, die Koup, die Karoo, die 
Knegsvlak, die Kaiingveld, die Sandveld, die Boesmanland en Namakwaland daarby in. Ook oom Schalk Lourens se Marico-Bosveld.

Is bynaamgewing bekend in ander streke?

In diep en donker tye moet 'n mens met 'n knipoog na die lewe kyk; dit sou enige knaap jou kon s. Want wie anders kan sulke raakvat-byname 
uitdink vir swaarwigtige onnies as juis kinders? Soutbaard spreek vanself; Papvy is nie juis vleiend nie, maar in die kol vir die juffrou 
met die slap wangetjies; Spitfire is ni na 'n beroemde vliegtuig genoem nie, maar na 'n man wat so geesdriftig les gegee het dat 'n 
leerling op 'n dag met 'n sambreel in die voorste bank kom sit het. Ek self het, toe ek n 'n vakansie met 'n nuwe haredos by my Baaise 
skool terugkom, onmiddellik die naam Mik gekry -- na aanleiding van Arthur van Schendel se Nederlandse verhaal De clown en zijn ander ik, 
wat ons pas die vorige jaar gelees het. ('n Notaris kry betowerde haarolie present en verander saans in die hanswors Mik met sy rooi 
krullebol ...)

Maar eintlik het ek dit oor Onderveldse naamgewing -- waarmee ek dan bedoel name uit 'n streek waar jy die strawwe natuur en die relatiewe 
afgesonderdheid maar net met onnutsigheid kon teenstaan; 'n streek berug vir sy gebrek aan kitsvermaak. Die soort wreld waarvan Van Wyk 
Louw al geskryf het, 'n wreld met 'n "ongerepte" en "skoon" taal; 'n Afrikaanssprekende gemeenskap in sy wydste sin vir wie speel-met-taal 
'n ho vorm van vermaak was, soos Louw dit in Rondom eie werk noem. "Rympies, raaisels, woordspelings; stories-vertel; terg en pla; die 
uitdink en smaaklike gebruik van byname ..."

Wat te ernstig en vernaam lyk, moet ondermyn word; dis 'n eienskap wat plattelandse platjies met die kortvolk op die skoolbanke deel. Maar 
bynaamgewing het ook te make met die gemeenskapslewe, met familietrekke, met 'n deernisvolle kyk na medemense.

Meraaitjie Roes (ek weet tot vandag toe nie wat haar regte naam was nie) het vroeg al di bynaam gekry oor haar sproete en roesrooi hare 
(soos ook die Wortels, die Praaimusse en die Polonies van my kontrei). Lelik was sy ni, en sy het menige vryer, nou ja, by wyse van spreke 
laat bontstaan. Rondom-lelik het dit minder gelukkig getref, want hy was nou behoorlik alkant selfkant, amper soos sy nefie KPP van 
Kakamas. Niks aan KPP het 'n mens aan hoofpynpoeier laat dink nie. Hy was wel die ene kieste en pens, met permissie ges. En niemand sou 
wou uitvra oor die laaste p nie!

Die Witmuise en die Meelkoppe se haarkleur verklap die oorsprong van hl byname, Vark-afval se pienkerige voorkoms vertel van syne, terwyl 
jy dieMiere sou kon uitken aan hul klein koppies en groterige agterstewes. Voorkoms, postuur en liggaamshouding speel ook 'n rol by diegene 
wat eerder as die Ronnekoppe en die Bulkoppe bekend staan. Buk-en-bekruip heet iemand wat geneig is om vooroor te loop, 'n maer mens word 
Nersderm en iemand wat altyd hand in die sy staan, is ou Suikerpot. Heilige Hakke loop op haar tone enOu Knypie kom so knyp-knyp oor die 
weg, want Purgasie het hom al weer by die plaasparlement voorgespring. Dra jy altyd skoene wat so flop-flop maak, haal jy jou gou die naam 
Soplepel op die hals; weet jy alles van almal af, is jy Koerant of Landstem (wie onthou nog di skinderkoerant?). Soms is 'n bynaam 
ironies, soos in die geval van Wakker Willem; en soms is die spot geniepsig, soos wanneer 'n langdradige, eentonige bidder al gou Gentle 
Jesus word.

Partykeer is die gee van byname bloot 'n handvatsel om 'n tros niggies uit dieselfde omgewing van mekaar te onderskei deur hulle na hul 
mans te "vernoem", soos vriend Braam de Vries vertel van sy Kannalandse vriendinne Hanna Thys en Gertie Lewies. Soms help 'n plaasnaam, 
soos wanneer Anna Puntkraal nou nie met Anna Bottervlei verwar moet word nie. Sou jy nog in 'n Onderveldse telefoongids hier en daar -- as 
daar baie mense met dieselfde stamname en van is -- byname tussen hakies kry, soos by die Loeriesfonteinse Nels? Hoe anders kom jy by die 
regte A. E. Nel uit as daar nie tussen hakies staan Dikke of Lange nie?

Hier het ons met stambyname te doen, soos A.A.J. van Niekerk, self 'n boorling van die Noordweste, hulle in "'n Vrou soos sy" (uit Die 
tierslagyster) noem wanneer hy vertel van die twee Nukerks wat na sy ma gevry het: Jan Talie en Jan Hoppiedai. Oor laasgenoemde wonder ek, 
want Boerneef gebruik hoppieda(a)i rens in 'n gedig om, as ek reg onthou, galopperende blare voor te stel. Boshoff en Nienaber se 
Afrikaanse Etimologie gee twee verklarings vir hoppiedaai: dit kan dui op 'n dansbeweging (huppel) of op iemand wat die H.P.O.D. (Hor 
Primre Onderwysdiploma) verwerf het. Waar sou oom Jan en Pieter en Brend Hoppiedai aan di bynaam gekom het? En is daar inderdaad 
afgestudeerdes wat Hoppieda(a)is was?

Onderskeidende byname soos Wit-Renier en Swart-Renier of Kort-Jasper en Lang-Jasper is algemeen wanneer neefs dieselfde van dra. Aan my ma 
se kant van die familie is daar soveel George Henry's dat byname soos Jors Bril en Bontjors algemeen geword het.

Bynaamgewing het in die Onderveld tot fyn gemeenskapsatire ontwikkel. Het dit ook daarmee te doen dat die veeleisende natuur die mense 
eerliker en reguiter gemaak het, met 'n vryer s? Of was dit dikwels bloot 'n manier om - soos kinders in hul kinderlike eenvoud maak -- 
iets nuuts en verrassends naam te gee? Is dit hoekom oom Andries van Wyk Andries Gouetand geword het, in die dae toe net enkeles so 'n 
"luukse" kon bekostig?

Huibrecht Mulder verduidelik in haar mooi herinneringsboek Dit was gister en eergister dat baie byname saam met die draer gesterf het, 
maar, s sy, "daar is ook di wat oorgaan van geslag tot geslag". Dit is erename, name met 'n geskiedenis. Huibrecht vertel van die 
Koelblaaie, van wie een voorsaat so taai was dat hy 'n koel lewendig uit sy blad laat sny het!

'n Bynaam soos Blootvoet spreek vanself, en Sangiro verwys al in En die oranje vloei verby na die Ampie van die Sandveld, Theuns Blootvoet. 
Tot vandag toe is Blootvoet 'n geerde bynaam onder die Coetzees, al dra almal skoene.

Meestal is byname karakteriserend en pittig. Jy sou mooi in jou spoor trap as jy in oom Jan Duiwelsnor se geselskap kom, nie net omdat hy 
so 'n allemintige moestas had nie, maar omdat die naam jou gewaarsku het dat sy buie jou nogal kon verras. Ou Vliebroek, weer, was die 
onrustigheid vanself. Hy kom kuier, maar hy sit skaars, dan vlieg hy weer op. Angelier het altyd iets deftigs aan hom, soos 'n man met 'n 
blom in sy lapel.Brend Botterhande groet op so 'n slap manier. Huibrecht Mulder vertel hoe Gert Gas (leweransier van gasbottels) aan sy 
naam gekom het; en almal op Nababeep en omstreke het vir Hannetjie Groentewinkel geken. (Die groentewinkeleienaar in my roman Die 
onderskepper het haar lekker bynaam geleen.) In my grootwordtyd was vars groente en vrugte hier skaars; daar sit dus 'n hele stuk logika in 
so 'n naam. 'n Beskrywende naam soos Isak Mikbaard (Van Niekerk) roep 'n patriarg in 'n sepia-portret op, en laat jou vir 'n oomblik 
terugdink aan die Vikings se gewoonte om hul hoofmanne na hul baarde te vernoem: Olaf Oesbaard, Erik Vurkbaard ... Willem Steenkamp (Land 
of the Thirst King) vertel oom Isak het sy bynaam glo gekry omdat die wind sy lang wit baard mooi in twee gedeel het wanneer hy te perd 
aangejaag kom.

Aitjiebul mag raaiselagtig lyk totdat jy agterkom niemand kon regkom met die naam van die (Skotse) voorvader van di wreld se Kennedy's 
nie. Toe word Archibald Aitjiebul.

Baie name roep om verklaring: Bokstolle, Tollie Heuninghals, die Stilstuipes, Willem Woelgulp ... En waarom sou 'n sekere oom Huysamen van 
Garies die bynaam Suringpap gehad het? En hoe sou Okkie Ou-ram en Okkie Ou-ooi onderskeidelik aan hul name gekom het?

Maar verklaring bly soms uit. En reg ook so. Byname -- soos gedigte -- moet dalk iets aan die verbeelding ook oorlaat.

Ek meen dit was Van Wyk Louw wat rens -- na aanleiding van die bynaam Mondsinger -- geskryf het dat bynaamgewing suiwer posie is ...   
Dr. George Weideman het pas weer die Sanlam Prys vir Jeuglektuur ontvang vir sy Dana se Jaar Duisend.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5513.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

